Deur Wilco
Roberts
Dis met ʼn swaar sug wat Jan Gerbrand du Plessis die
kamer se gordyne ooptrek en oor die vlakte staar.
Hy trek die kamerjas se gordel stywer oor sy dik middel
en druk sy tone in sy pantoffels in ʼn poging om van die skielike laat herfs byt
in die lug te ontsnap.
Hy sloffel in die gang af kombuis toe. Sy ingewande
ruk hier binne hom as hy die naarheid in sy keel voel opstoot wanneer sy
bloedbelope oë die prentjie voor hom in die eetkamer aanskou.
Die tafel is ʼn gemors. Bloed gemeng met drank, Coke, kots
en oorskiet kos kleef soos ʼn tafeldoek op die houtblad. Die stoel waarop hy sy
sorge probeer wegsuip en huil het, lê onderstebo op die vloer. Op die tafel,
langs die leë bottel Klipdrif en twee liter plastiek Coke-bottel lê sy pistool.
Sy bene wil nie verder gang af die kombuis in nie. Dit
rem soos ʼn steeksdonkie. Binne hom stoot die emosies op soos die kots van
vroeër, maar dié sluk hy ook af. ʼn Warboel van gevoelens wat soos kleure voor
sy oë verby dwarrel – skande, moedeloosheid en lafhartigheid.
“Ek is nie ʼn lafaard nie,” dink hy in sy gedagtes.
“Jy het dan nie eers die moed om jou eie breins weg te
blaas nie,” hoor hy die teenargument hier in sy kop.
“Stop dit!” brul hy met sy geswelde droë tong.
Hy sukkel skuif die kombuis in, draai die kraan oop en
drink drie glase water vinnig na mekaar. Hy voel hoe lewe stadig in sy moeë are
begin terugvloei as hy die ketel aansit.
Sterk boeretroos. Regte koffie, nie daai plastiek
gemors nie. Dit is wat hy nou nodig het. En vars lug.
Dan moet hy die gemors kom skoonmaak. Hy verwag
kuiermense later.
In die verte hoor hy die kerkklok beier. In die
Sondagmôre stilte van die platteland dra die klank ver. Die geluid laat hom
wonder. Vanoggend sal hy nie in die kerkbank met sy groot lyf insukkel nie. Die
skande is te groot. Vandat die kerk die plek vir volmaaktes geword het in stede
van ʼn plek van hoop en genesing vir siekes wat verlossing, liefde, begrip en hoop
nodig het, sukkel gewone mense soos hy om God se vrede tussen die klipmure van
dié organisasie te vind.
“Broer, ons wil jou so graag meer in ons midde
verwelkom,” het dominee die ander dag probeer.
“Nee dominee, ek is nie welkom nie,” het hy terug
geantwoord.
Jan was nog nooit bang om enige bul, letterlik of
figuurlik, aan te vat nie. Sy bynaam tussen sy boere kollegas is immer Jan Brahmaan.
As die trotse eienaar van een van die spog stoete in die kontrei, roem hy hom
op die gehalte van sy bees.
Maar selfs ál die sukses, kan die dieper seer nie
wegneem nie.
“Dominee, dit is maklik om in die bank te loop
inskuif,” het Jan met sy eerlike reguit manier teruggekap, “Maar welkom voel ek
beslis nie. As dominee eers daar voor begin om vir ons te vertel hoe ons moet
lyk om vir God aanvaarbaar te wees, dan is ek nie welkom nie.”
Dominee het gespartel om met fyn retoriek te probeer
om sy saak oor heiligheid en die wet en die gebooie van God te stel. Maar Jan
het vasgeskop. Soveel so dat dominee die laaste paar jaar Jan se plaas op
huisbesoek verby gery het.
Jan is nie ʼn geleerde man nie. Hy is ʼn man van die
aarde wat worstel met die daaglikse struweling van bestaan maak uit ʼn boerdery. As dit nie droog is nie, slaan die
donderweer jou bees dood of die pryse van alles styg. Boerdery is nie vir
sussies nie.
In dit alles het hy egter geleer om op sy God te
vertrou. Hy glo eenvoudig, maar sy hele lewe vertrou hy nog op God. Hy het God
lief soos hy die grond lief het. Met ʼn innerlike branding wat hy nie in woorde
of emosies kan sit nie.
God is vir hom liefde, want hy kyk na hom wat Jan is
op maniere wat hy nie altyd verstaan nie. As die natuur se aanslae kom, of die
ekonomie sy manewales uithaal, of die politiek dreig om alles te kom omkeer,
het God nog altyd vir hom uitkoms gebring. Op verskeie wyses. Nie altyd soos hy
gedink het dit moet wees nie, maar dit het altyd gekom. En daarom het hy deur
die jare ʼn stil vertroue geleer.
Dit is egter nie die God van die dominee in die
klipkerk op die dorp wat elke Sondag op jou skree en jou vertel hoe sleg en
sondig en onrein jy is nie. Dat jy net nooit goed genoeg vir God sal wees nie
en daarom jou sokkies moet optrek. Dat jy net moet weet met elke sonde wat jy
pleeg slaan jy weer vir Jesus aan die kruis vas.
Dié God laat hom onwelkom voel in die nou ongemaklike
houtbanke van die klipkerk in die dorp.
Terwyl Jan met sy koffiebeker weer deur die eetkamer
skuifel om buite op die stoep te gaan sit, dink hy ná gisteraand sal hy nog
minder dit kan durf waag om in dié kerk se bank te loop
inskuif. Die aanklagte teen hom sal te swaar wees om aan te hoor en te verwerk.
Hy sal eerder op die stoep gaan worstel met sy
swakhede, sy pyn en skuldgevoelens. Dan sal hy die eetkamer gaan skoonmaak.
Ja, hy is ʼn lafaard, want gisteraand kon hy nie die
sneller trek toe sy gemoed in die diepste donker vlakte gaan sit het nie. Maar
hoe kan hy dit doen. Sy probleme probeer ontsnap? Sy kinders met worstelvrae
gevange hou die res van hul lewens? Sy werkers sonder inkomste en heenkome los
en almal wat hy voor omgee met die alewige verwyte laat rondloop?
“Here,” prewel hy terwyl hy op die stoep aan sy koffie
suie, “Dis maar net ek, ou Jan Gerbrand du Plessis. Ek het gestruikel
gisteraand toe die donker wolk sy swart koue vingers om my kom slaan het. En ek
het weer na daai bottel gegryp wat niks help nie. Maar ek kom vra vanoggend vir
U om my te help soos U my nog altyd en elke dag help om ook hierdie ding agter
my te sit en weer vorentoe te kan kyk.”
En op daai oomblik steek die son sy rooikop agter die
horison uit, asof God net vir Jan in sy oor kom fluister: “Ek hoor jou. Daar is
nuwe lewe by my, soos my genade elke dag vars en nuut is vir jou.”
Jan, die groot suksesvolle boer van die kontrei, voel hoe
die trane oor sy wange afrol as hy God se stil vingers van liefde oor hom voel
spoel in die eerste warm strale van die oggendson en hy weet, ook dié dag is ʼn
nuwe vars ontwaking van hoop.
So voel ons almal maar partymaal, so deurmekaar soos kots in n tuimeldroeer met tye. Alles is aan verander, tyd, emodies, ouderdom, uitkyk op dir lewe. Soos die storie uitbeeld, geen groot klemgevoel van swart verdrukking of nood kan vir altyd blynie, kyk uit vir daardie goue stralie.Mooi geskryf Wilco, ek kan die Liefde, Lig & sonskyn van daai boer voel in my hart. Dankie.
AntwoordVee uit